Sunday, April 19, 2009

'n Paar snapshots van die laaste ruk

Sjoe! Deesdae is ons dae so vol en besig en Franco bemeester so vinnig nuwe dingetjies, as ek weer sien is ons agter met die blog!

Die laaste week of wat het ons:
  • teruggekom van ons Middelburg naweek. Die wasgoed, tuinwerk en regte werk-werke was als agter van die paar dae wat ons weg was en moes ingehaal geword het.
  • tussen-in moes ons beplan vir Die Partytjie. Groot pret, maar die tyd was net so min! ;-)
  • Franco het sy deel van die partytjie beplanning gedoen, en sy ouers bederf? deur tand nommer 6 & 7 die 2 dae voor die partytjie te sny. Daar is min dinge soveel pret soos besige dae, en laaaang nagte met kwantiteit gesinstyd nie
  • en die belangrikste? Dit was Paasfees! Gesinstyd, introspeksie-tyd, dankie se tyd. Dankie Jesus vir U groot,groot offer! Dankie dat ons kan Lewe omdat U bereid was om in ons plek te sterwe.
  • Ons het een heerlike partytjie gehad en toe moes
  • Mamma met 'n baie swaar hart Bloemfontein toe gaan vir werksgoete. Niks teen die Rosestad nie, maar 3 uit die laaste 4 keer wat ek daar was, was ons vlugte vertraag. Dink ek ken nou die (vrek klein aircon-lose) lughawe goed genoeg.

Die partytjie was 'n reuse-sukses! En Franco (en sy ouers!) het dit so-so baie geniet. Om die waarheid te se - ek en Gert het die partytjie so baie geniet, dat ons vergeet het om 'n enkele fototjie te neem! (Al het ons so ewe die aand voor die tyd die kamera se battery spesiaal gelaai) Dankie tog vir 'n parate Ouma, Oom Hannes en Tannie Thelwyn wat die Hasie-partytjie vir ons gedokumenteer het. Nou is die uitdaging net om al die fotos by die verskillende kamera-eienaars te kry. Ouma Miekie was so oulik om 'n hele CD vol fotos spesiaal by my werk af te lewer (dankie Ma!), maar daar vergeet ek die CD Vrydag op my lessenaar. :-( Grrr,grrrrr vir myself! Die partytjie-fotos kom - belowe, maar intussen moet hierdie maar instaan...

Ons was druk besig om te pak vir ons Middelburg-naweek toe Franco skielik tjoepstil word en ons wis ons moet gaan loer....

Meneertjie was druk besig om 'n rol toiletpapier te dissekteer - die konsentrasie was iets om te aanskou!Uitgevang! Al is hy hoe klein, Franco weet as hy iets doen wat hy nie veronderstel is nie - en kan nes 'n verskrikte bokkie lyk as hy agterkom hy is uitgevang. :-)

Aan die einde van elke ete dring Franco deesdae aan om self te probeer eet. Dis maar 'n morsige storie (ek sou ook sukkel as ek die lepel kort-kort onderstebo of agterstevoor het), en sy mamma leer lesse in geduld, maar dis te skattig om te sien!
Franco was baie geintreseerd in my sap, en het dadelik nader gestaan vir sy beurt. Moet se - hy het nogals oulik reggekom! As ouers van 'n seuntjie wat nie-hou-van-vreemde-goete-in-sy-mond-nie was dit 'n groot verrassing! Ons was sommer baie trots!

(En kyk net die lelike skraap op die gesig - Franco het saam-saam help klere uitpak, en moes hom op een of ander manier met die gespes gekrap het :-( Hy het niks eers gehuil nie - al het ek my byna boeglam geskrik toe ek dit opmerk. My arme kind lyk nes 'n wilde seerower!)

Kyk hoe rond staan my pensie na ete! Franco het een oggend amper 20 lepels pap geeet! Boeta het net gevra vir nog en nog en nog...


Paasnaweek was ons op die plaas en Franco het Oupa Jan se pantoffels ontdek. (Vir nog skattige Paasnaweekfotos kyk bietjie op Ouma se blog hier)
Oupa jy is my hero, en ek gaan eendag net so groot soos jy wees!

Franco ontpop deesdae in 'n klein helpertjie. As ek of Gert besig is met iets, dan is Seuna vinnig om nader te kruip en aan te dring om te wil "help". Nou veroorsaak die "hulp" nog effens uitdagings, maar ons hoop maar hy bly so fluks sy lewe lank!

Die oggend van die partytjie het Gert die opblaas swembadjie opgepomp en Franco het vinnig nadergestaan en ernstig na die instruksies geluister...
Op en af, op en af! Franco het gedink dis skreeusnaaks. (Franco het darem ietsie van sy ma geerf - sy oe gaan ook toe as hy lekker lag. Nie juis die mees fotogenieste eienskap nie :-)

Franco staan (en stap selfs!) deesdae al oulik - sy selfvertroue is net nog bietjie min. Hy raak verboureerd as hy agterkom hy staan self en dan gaan sit hy sommer dadelik. Die betrokke oggend het hy lank gestaan terwyl hy aan die pomp se pyp vasgehou het - min het hy besef dat so 'n pyp eintlik geen ondersteuning bied nie...

Mamma word darem ook gehelp! Hier help Franco fluks sy eie wasgoed sorteer

Doen ek dit reg Mamma? Dis mos Lig, Medium en Donker ne? So 'n hoop wasgoed maak 'n baie lekker speelding, en Franco kan homself 'n lang ruk daarmee amuseer.

Julle moet 'n lekker aand he! En lief bly vir Liewe Jesus! Ek is tog Donderdag 'n volle EEN jaar oud!

Wednesday, April 8, 2009

Fotos van die naweek

Al was die rede vir die kuier 'n hartseer ene (sien inskrywing net voor die ene), was dit nogtans lekker om die familie te sien :-) Ons het so lekker gekuier, dat ek op die end baie minder fotos geneem het as wat ek gedink het ek het!
By die begrafnis-tee. Ons klein drool-machine :-)


Jaag my Lee-Anne! Besig met 'n kruipkompetisie


Die tee was in die dorpsaal gehou met die pragtigste verhoog. Franco en sy kleinnefie en -niggie het alte gou die gordyn ontdek en hope pret gehad! Die helder kinderlaggies was salwend op 'n seer gemoed. Die kleertjies was maar goed stowwerig, maar gelukkig maak Omo weer alles silwerskoon.

Soms was Meneertjie so haastig, hy het skoon geski op die verhoog


Waar's hy? Daar's hy! Graeme is Lee-Anne se ouboet en was wonderlik met die kleintjies



'n Poging tot 'n groepsfoto van die kleinnefies en -niggie. Van links na regs:

is 'n onwillige Lee-Anne (3 in Oktober), Graeme (9 jaar), Hannelize met Fouche (8 maande - tannie Sandy se skoondogter en enigste kleinkind) en Gert met Franco

Fouche verwonder hom aan Graeme wat as kwaai Ouboet vir Lee-Anne tot orde probeer bring en Franco oefen sy waai-tegniek. (Hy het agter gekom dit lok groot reaksie uit, en vir 'n paar dae was dit die nuutste thing om oor-en-oor te doen)

Probeerslag nommer twee. Lee-Anne is erens 'n pienk spikkel agter die gordyn
Fouche is 'n klein bulletjie, en is langer en swaarder as ons klein Aspatatie al is daar 3 maande verskil tussen die twee. Franco is duidelik my en Gert se kind! Reuse is ons nie :-)

Saam met Ouma en Oupa

Baie vroeg Sondag-oggend toe ons wou ry, besef ek skielik ons het so lekker gekuier dat ons nooit 'n foto van Franco saam met Ouma Elna en Oupa Lappies geneem nie! Skuus ons vang julle so in jul nagklere - maar 'n foto moes ons darem he!
Die afry deur die middag/aand was nie so sleg nie, en Franco was droomsoet (en groot dele in droomland!) - maar toe ons so kort na Donderdag weer die langpad aandurf was Boeta minder ingenome. Ons het maar kort-kort gestop en allerhande interessante plekke ontdek. Dink hierdie was by Kroonvaal.

Oom Hannes hou piekniek, en Franco toets die swaaie uit

Die piekniekmandjie het kersietamaties opgelewer, en ons wou kyk wat Franco daarmee maak. Soos verwag, gaan die nuwe fonds glad nie mond toe nie maar die handjies het als ywerig ondersoek.

Hmmm - wat is die? Kom ons slaan/druk dit dood! .

Na die eerste tamatietjie oopgebars is (en Gert lekker nat gesquirt is!), het Franco gedink dis 'n lekker speletjie en wou net nog en nog tamaties he. :-)


'n Nabyskoot van die gemors. Dankie tog vir afveedoekies!




Nog 'n tamatie seblief Mamma? Maar Pappa se NEE ;-)


Dis lekker besig by die werk - ons is altyd besig die tyd van die jaar, en April se baie vakansiedae is lekker, maar die deadlines skuif nie aan nie. :-)


Verder beplan ons lekker aan Franco se verjaarsdag-partytjie. Dis al Maandag! Gits! En behalwe vir almal uitnooi, het ek nog niks eintlik voorberei nie. Sal maar die naweek rondhardloop - en baie dankbaar wees vir Ouma Miekie wat wil help! Die verjaarsdag is eintlik eers die 23ste, maar ons hou dan bietjie vakansie (yeah!) en omdat Franco se ander Ouma en Oupa nou by ons sou kom kuier het, het ons die partytjie bietjie vroeer gemaak sodat hulle ook kon by wees. Maar nou ja, die Here het ander planne gehad en hulle help nou eers dinge in Middelburg uitsorteer.


Op 'n ander punt - is die Here se skeppingswerk nie ongelooflik nie? Minder as 'n jaar terug was Franco nog 'n pap babatjie wat nie eers kon glimlag nie (maar nogtans diep in ons harte gekruip het!). Deesdae is pure klein seuntjie wat al saam met maatjies kan saamspeel en saamlag! Noudat ek 'n mamma is, dink ek, ek verstaan effens beter van hoe lekker dit vir die Here moet wees as Hy sien hoe ons groei en ontwikkel (en hoe gefurstreerd Hy moet raak as ons deur ongehoorsaamheid daai ontwikkeling verlangsaam). En tog gee Hy nooit moed op met Sy kinders nie. Dankie Here! Vir U liefde, sorg en geduld. Dankie vir die blessing wat Franco is, en dat ek deur hom soveel lesse van U kan leer. Maak my hart sag en ontvanklik vir U stem, sodat daai lesse nooit verniet sal wees nie..

Tuesday, April 7, 2009

Ter nagedagtenis: Tannie Sandy

Tannie Sandy (soos ons haar geken het) is laasweek baie onverwags oorlede. Die dokter vermoed dit was 'n bloedklont deur haar hart. Sy was Pa Lappies se jongste suster, en ook hul buurvrou en vriendin. Haar dood was 'n groot skok - mens verwag nie dat iemand wat as gesonde mens gaan werk 'n paar uur later sal sterf nie. Ek weet daar is vele wat haar sal mis, en my hart gaan veral uit na Pa Lappies, Ma Elna, tannie Rina Kok en Conrad, haar enigste seun. Ek bid dat Jesus julle superstyf sal vashou, en salfies oor die seer sal smeer.


Gelukkig weet ons dat tannie Sandy 'n Koningskind is, en dat sy nou veilig by ons Pa is. Al is die gemis groot, bring dit tog vertroosting dat niks sonder Sy hand gebeur nie, en dat sy geensins gely het nie.


"Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie." Psalm 116:15

Franco in sy Cheeky Jeans - een van vele geskenke van tannie Sandy

Thursday, April 2, 2009

My hart wil smelt...

Daar is baie nuus om te vertelle, maar dis 'n onverwagse dol en hartseer week...

Gelukkig is daar 'n sekere kleinman in my lewe - hy en sy pa laat my hart sommer tjoklits klop!

Meneertjie is 'n klein klitsie en sy nuuskierigheid maak dat Mamma besig bly! As ons nie ons speelgoed die wereld vol ronddra nie, dan pak ons die tupperkas uit of verwoes 'n rol toiletpapier, smyt die arme plant om en of pak ons eie doeksak uit. Die doeksak-storie moet ons deesdae hoog wegbere en nogsteeds mooi kyk anders kom jy eers agter iets is soek as jy dit ver van die huis nodig het (hoog genoeg verander elke dag - om bloot die sak op die bank te tel werk nie meer nie!).

Hoe gaan die Flake advertensie? "One smile (bite), and all resistance crumbles"


Elke dag is ons meer seunskind, en minder babatjie..

Die assistente by die skool se bynaam vir Franco is "The King". Toe die skoolhoof vra hoekom, is die antwoord: "Want hy is die gelukkigste, gemoedlikste, happy-ste babatjie wat hierdie skool selde nog gesien het!"

Is dit moontlik dat jou hart terselfdertyd kan smelt van liefde en bars van trots?

11 maande, 1 week en 3 dae

Saturday, March 28, 2009

Raai wie het gisteraand lekker geslaap?

Ekke! :-) Soveel so dat ek nie eers eintlik weet of Franco ook lekker geslaap het nie - as hy nie het nie, dan was dit omdat Gert 'n engel was en opgestaan het; ek was so moeg dat ek niks eers agtergekom het nie.Ons het Donderdag en Vrydag 'n groot afdeling Bosberaad tipe werkswinkel gehad. Ek was grotendeels die koordineerder en moes ook 'n klompie van die lesings aanbied. Dit was 'n eerste vir my, en ek was baie dankbaar vir ons IT-dametjie (al die training rekenaars moet die toepaslike programme gelaai kry, geskuif word, kragpunte uitsorteer, netwerkkabels optoor ens ens) en raakvat sekretaresses wat weet van kos en verblyf reel - so 'n storie het meer werk agter die skerms as wat mens besef!

Die twee dae was produktief gewees, en dit was lekker om almal weer te sien en verhoudings te bou - maar glo vir my, ek was gistermiddag na almal weg was lekker flou gewees!
In ander slegte nuus - Hendrik (my broer) se kar is Donderdag-aand voor die kerk gesteel! Ek was sommer baie onsteld toe ek die nuus verneem - Domminique was vir 8 jaar lank my wiele gewees en ek het gehoop Hendrik sou dieselfde vreugde uit die Blou Tazz kry. Toe ek en Gert net getroud was, was Domminique ons "grand" kar waarmee ons op wittebrood gegaan het. Ek onthou nog die vreugde toe Pa Jan die laaste bietjie wat ek op die kar geskuld het, afgeskryf het as troupersent - dit was bloedsweet om midde-in klerkskap soveel terug te betaal het as wat ek het. Weereens dankie Pa!
Domminique beteken "die Here s'n" so dalk kry die dief meer as waarvoor hy gebargain het! Wie weet wat is ons Pa se planne as dit by sulke goed kom :-) Maar dit bly maar 'n woeste slegte situasie, en ek kry vir Hendrik jammer wat nou sonder wiele sit...

Monday, March 23, 2009

Franco se naweek

Franco se naweek was nie als super-lekker nie. As ons die doeke moet beoordeel, is daar nog 'n tand wat naby is om te sny (nie dat ons weet watter ene van die drie kanidate nie!), sy neusie was alweer toe (gaan maar altyd saam met die tandekry) - so algemeen het ons bietjie oes gevoel. Boetman se mond was te seer om behoorlik te kou, en die toe neus maak dat hy nie lekker sy bottel kon drink nie - 'n furstrerende situasie vir 'n honger seuntjie!

Gelukkig was dit darem nie als net sleg nie, en het ons oomblikke van groot pret ook gehad!

Raai wie het die skinkbordkassie in die kombuis ontdek?Uitgevang!

Deesdae is trappe klim (onder toesig!) 'n groot bederf!

Hier kom ek Mamma! Franco klim verbasend vinnig!

video

Sondag-middag het Danie en Adelle (ons vorige buurman) bietjie kom koffie drink. Met die dat Seuna se eetlus so af was die hele naweek, het ons gedag ons bederf hom met 'n bietjie sjokolade-koek - dalk kon ons hom so weer aan die eet kry...

Blykbaar is ek nie so 'n goeie bakster nie... :-)

Franco is vandag 11 maande oud! Wanneer het dit gebeur?

Wednesday, March 18, 2009

Herfs is aan die kom!

Die oggende begin so bietjies-bietjies koeler raak, en laasweek het ons skielik agtergekom Seuna se langmoukleertjies pas al hoe meer na kortmoukleertjies :-) Na 'n uitstappie winkels toe, is ons nou (beter) voorbereid vir die koue fronte. Vanoggend vroeg het Meneertjie vir ons sy een pakkie gemodelleer. Kyk net hoe pose ons vir die kamera!


Wel hallo daar!

Cute? Wie ek?

'n Aartappeldrukprentjie vir mamma
Lekker week vir julle! 10 maande 3 weke